Dié Bybel wás saam na die noorde, saam op die wa

Gedurende ’n lang loopbaan as antikwariese boekhandelaar het ek al male sonder tal ou Familiebybels en ander items onder oë gehad wat, volgens hul eienaars, “saam op die Groot Trek was”.

Baie van dié bewerings is maklik om verkeerd te bewys – gewoonlik omdat dit onmoontlik was vir die betrokke item om die trek mee te gemaak het omdat dit eers lánk daarna vervaardig is.
Ander kon dalk die Groot Trek meegemaak het, of miskien nie. Dis onmoontlik om te bewys.
Dit is daarom soveel opwindender as jy as versamelaar of afslaer gekonfronteer word met ’n item wat sonder enige twyfel die trek meegemaak het.

Die oudhede-handelaars Michael en Vanessa Prior wys my onlangs ’n ou Hollandse Bybel wat in 1797 in Amsterdam gepubliseer is. Die Bybel is relatief klein?–?sowat?20?cm x 10?cm – met ander woorde ideaal vir reis.

Michael sê die vorige eienaar se vrou het altyd geglo dat dit baie spesiaal is. Ná haar dood het haar man die Bybel aan Prior verkoop, wel wetend van sy liefde vir ou goed.
Die eerste ding wat hy opgelet het, was die inskripsie voorin: “Peterus Erasmus Smit Jun. Graaff-Reinet 26 Desember 1827”.

Smit was ’n interessante karakter wat ’n belangrike rol in die 19de eeuse koloniale geskiedenis gespeel het. Hy is in 1778 in Amsterdam gebore en het in 1804 na Suid-Afrika gekom waar hy aanvanklik as sendeling van die London Missionary Society in Bethelsdorp gewerk het. In Junie 1813 is hy getroud met Suzanna Maritz, suster van die Voortrekkerleier Gert Maritz. (Sy was toe nog nie eens 14 nie!)

In 1836 het Smit, toe 58, saam met sy swaer en vrou uit die kolonie padgegee. Uit sy dagboeke (wat in 1972 gepubliseer is) weet ons dat hy in Natal was en eerstehands kennis gedra het van die dood van Piet Retief en die Slag van Bloedrivier. Sy laaste dae het hy geslyt in Pietermaritzburg waar hy predikant was en in 1863 oorlede is.

Die feit dat Smit die Bybel net vóór die trek in Graaff-Reinet gekoop of persent gekry het, beteken dus dat dit sáám met hom na Natal is.

Maar daar is meer: Prior sê die metaalgespes van die Bybel was aanvanklik swart, maar nadat dit versigtig skoongemaak is, het hy tot sy verbasing ontdek dat dit silwergespes is met die naam “Peterus Smit” daarop gegraveer.

Die grootste verrassing was egter die stempel van die silwersmid agterop die gespe: Theodorus Heegers. Stephan Welz skryf in sy boek oor Kaapse silwer dat Heegers in 1829?en?1830?in Graaff-Reinet gewerk het. (Vroeër was hy in Kaapstad). Omdat ons weet dat Smit in daardie jare op Graaff-Reinet gewoon het, kan mens met redelike sekerheid sê dat die gespes in dié Karoo-dorp gemaak is. Dit beteken dié gespes is waarskynlik die enigste Heegers-silwer wat ongetwyfeld hier gemaak is.

Dis selde dat mens ’n ou Bybel met so ’n onverbeterlike rekord van herkoms kry en ’n mens kan net raai wat dit werd is: R90?000 of R100?000 miskien?

Dié Bybel is een van verskeie waardevolle items wat by die SA Antique Dealers’ Association (Saada) se kermis van 9 tot 11 Oktober in Illovo in Johannesburg te koop gaan wees.

Vir meer inligting kontak Marylou Bawden by 011 880 0815 of by saada@telkomsa.net.
Weekliks
Onderskrif: Die Erasmus Smit-Bybel.

Leave a Comment